Mediablootstelling – November 2006 tot Januarie 2007
Gerhard van Wyk
Etienne het die afgelope ruk uitstekende mediablootstelling geniet. Daar was ‘n paar verskynings op TV, asook resensies en volledige artikels oor hom in tydskrifte en koerante.
Etienne het ‘n paar keer op MK89 verskyn. In November is daar van Etienne as opkomende, vars talent op Gons melding gemaak, en het hy ook as gas op Jip verskyn. In Januarie was Etienne ook die gas op Stook.
Verder het daar resensies van “Storie van my hart” in die Volksblad van 13 November 2006, in die Somer 2006-uitgawe van De Kat en in die Januarie-uitgawe van Sarie verskyn.
Volledige artikels oor Etienne het in die November-uitgawe van die tydskrif Vonk, in die Volksblad van 20 November 2006 en in Die Burger van 6 Januarie 2007 verskyn.
Etienne het ook ‘n goeie teenwoordigheid op die radio gehad. Op 18 November 2006 is daar ‘n onderhoud met Etienne op RSG uitgesaai, en hy het ook goed gevaar op die Top 20’s van onder andere OFM en Overvaal Stereo.
Sy liedjie “Kind” is verder op MK89 se dubbel-cd ingesluit. Die video van “Kind” behoort ook binnekort op MK89 te begin wys.
‘n Hoogtepunt was toe Etienne as gaskunstenaar verskyn het op Steve Hofmeyr se program “Dis hoe dit is ... met Steve”, wat op 8 Desember 2006 opgeneem is. Hierdie episode gaan op Vrydag 9 Maart 2007 op kykNet uitgesaai word.
Gaan kyk ook gerus onder “gigs” vir plekke waar Etienne binnekort gaan optree.
Van Riebeek na Rittel
deur Gerhard van Wyk
1 November 2006
Nadat Etienne in Augustus vanjaar vir die eerste keer as solokunstenaar in die Kaap kom optree het en die gehore by twee geleenthede gaande gehad het, was dit net vanselfsprekend dat hy dit ‘n kort rukkie daarna weer sou moes doen. Sy aanhangers wat hom toe vir die eerste keer in lewende lywe sien optree het, sou nie lank kon wag vir die opvolgkuier nie. Ons het goeie moed gehou, ja, en gelukkig was dit net ‘n tweemaandlange wag voordat ons weer vir Etienne sou sien optree.
Die eerste van Etienne se optredes met sy onlangse kuier in die Kaap was op 20 Oktober by die Groenrivier Landgoed op Riebeek-Wes in die Swartland. Hier het hy tydens ‘n fondsinsamelingsgeleentheid ten bate van ‘n kankerpasiënt opgetree. Die aand was ‘n enorme sukses. Nie slegs vanuit ‘n finansiële oogpunt beskou nie, maar ook vanuit ‘n musikale een. Alhoewel die idee was dat die gaste hulle skoene moes uitskop en saam skoffel, het ‘n mens die gevoel gekry dat Etienne se musiek en lirieke hulle as ‘t ware só bekoor het dat hulle eerder na sy ongelooflike stem en eerlike woorde wou sit en luister as om die atmosfeer te bederf deur te dans!
Ná Riebeek-Wes het ‘n paar dae verloop voordat Etienne afgesit het Vredendal toe vir sy eerste besoek aan die Rittelfees. En het ons nie saam gerittel nie! Sy eerste optrede hier was op Donderdag 26 Oktober. Alhoewel dit nog in die beginstadium van die fees was, was daar toe reeds ‘n hele paar feesgangers wat hulle waardering vir Etienne se musiek kom wys het. Sy volgende optrede by die fees was op Vrydag 27 Oktober om 10:00, ‘n ongesonde tyd as jy die vorige aand redelik laat in die bed gekom het. Maar ek het toe weer opnuut besef dat Etienne se musiek die beste opkikker is wat jy kan kry! Die Blue Daisy-tent waar hy toe opgetree het, het sommer vinnig volgepak geraak nadat die mense Etienne se onverbeterlike stem by die tentflappe hoor uitvloei het. Hy het veral liedjies van sy cd “Storie van my hart” gesing, maar ook tussendeur ‘n paar nuwe liedjies akoesties gedoen, met “Blomme op my skape verf” wat weereens, kompleet soos ‘n plaat Namakwalandse vygies in die lentetyd, ‘n vrolike hart laat warm kl op het!
Saterdag 28 Oktober het Etienne ‘n vinnige verskyning in die Huisgenoot-tent gemaak voordat hy weer ‘n vollengte optrede in die Blue Daisy-tent gehad het. En beide Etienne en die feesgangers het gekook!! Dit was ‘n geval van wedersydse inspirasie!
Dit was vir ons weereens ‘n enorme voorreg en ‘n groot plesierigheid om ‘n verdere Kaapse draai, hierdie keer van Riebeek-Wes tot by die Rittelfees (en met ander lekkernye tussenin), met Etienne saam te stap. Hou so aan, Etienne. Die beste moet op die ou einde heel bo uitkom! Mag jy die kultusaanhang kry en die sukses behaal wat jy verdien!
Ons sal nou maar weer goeie moed moet hou, tot ‘n volgende keer...
Etienne Steyn 'n naam om dop te hou
Beeld Plus - 1 November 2006
deur Marlise Scheepers
Dit is lekker om na oorspronklike popmusiek te luister sonder dat die polsende klanke oorverdowend in jou ore klop en die lirieke niks meer as net rymelary is met woorde soos bokkie, sokkie en rokkie daarin nie.
Etienne Steyn (25) se album Storie van my hart is vanjaar vir ’n Sama-toekenning benoem in die kategorie beste pop-album.
Met reg, want dié album is besonders. Steyn skryf die musiek en lirieke self. Hy is gewis talentvol.
Die titelsnit van die album is ook in 2005 deur Laurika Rauch opgeneem.
Die verwerking is van die boonste rak en die tegniese afronding is van uitstaande gehalte.
Steyn se musiek bly in jou kop draai en die woorde laat jou met ’n boodskap.
Die album bestaan uit 12 oorspronklike snitte met twee bonussnitte wat ge-remix is.
Moontlike treffers is Baby love van my, Happy dayz en Kind. Een van die mooiste ballades is Bekkie wat Steyn met deernis en eerlikheid sing.
Steyn gaan in die toekoms heelwat sukses smaak en sonder twyfel een van die land se gunstelinge word.
Etienne Spring en Tref Wyd
Rapport Tydskrif - 22 Oktober 2006
deur Marisa Beeton
'Afrikaans is eerlik, my musiek ook'
Dis moeilik om die ernstige outjie op die CD Storie van my Hart en die maltrap blondekop wat vir die kamera gesigte trek bymekaar te bring.
Op die omslag van sy CD lyk Etienne Steyn of hy uit 'n boyband ontsnap het, maar dit is 'n klassiek geval van nie 'n man op sy baadjie takseer nie. Hy is g'n Bryan McFadden nie, daarvoor het sy klank te veel van 'n twist op die gewone Afrikaanse popmusiek - byna soos die suurlemoen ná die sout en tequila.
In 'n park in Pretoria spring hy op en af op 'n bankie met 'n lewenslus wat aansteeklik is. Hy haal sy beste aapstreke uit en 'n mens wonder waar's daardie stil plek in sy siel waaruit sy liriek voortvloei.
Lirieke soos: "Daar verdwyn sy weer, soos mis voor die son; soos 'n skim in die maanlig met sy mantel om hom..."
Dit is juis sy lirieke wat Laurika Rauch se aandag getrek het. Sy het die titelsnit opgeneem en dit verskyn op haar album Die Nuwe Treffers Album. Sy beskryf Etienne as 'n muso in murg en been en voorspel dat hy volksbesit gaan word.
Hoe reageer 'n mens as die ma van Afrikaanse musiek een van jou liedjies opneem nog voordat jy jou eie CD gesny het?
"Ek was in ekstase," sê hy toe ons ná die fotosessie gesels. Hy sit rustig terug en druk sy lang blonde hare agter sy ore in. Alle lawwigheid vir eers op 'n stokkie.
"Ek het 'n demo van 'n paar liedjies vir haar gestuur om te hoor wat sy dink en toe besluit sy om een op te neem. Dit was 'n groot dag vir my." Maar dit het nie outomaties vir hom deure oopgemaak om sy eie CD te sny nie. Daarvoor het Ma Susan gesorg. Sy het verlede jaar Etienne se demo aan Angelo Angelos by AKA Rekords gestuur. Angelo was opsoek na 'n Afrikaanse kunstenaar, Etienne na 'n platemaatskappy en ses maande later het sy CD die lig gesien.
Hy het sy ambisies om die Afrikaanse mark te oorrompel, lank geheim gehou terwyl hy vir homself naam met sy Engelse musiek gemaak het.
Sy groep Goose Gap het die 21ste plek op 5fm se top 40-treffersparade behaal met hul rocktreffer Sugar up my Lollipop. Hy het later ingestaan as voorsanger vir Cutting Jade en was regisseur van dié groep se album Between Two Lives.
"Ek het deurentyd Afrikaanse liedjies geskryf, maar nooit gedink ek's goed genoeg om dit in dié mark te maak nie. Vir my is Engels die taal van fiksie, maar Afrikaans is eerlik, daarom moet jou musiek eerlik wees."
En sy liefde vir Afrikaans is ook net dit - eerlik. Hy wil nie beskou word as een van dáárdie kunstenaars wat die Afrikaanse mark net wil gebruik om geld te maak nie. Hy wil ook nie enige politieke stelling oor Die Taal maak nie, vir hom is dit maar deel van wie hy is.
"Ek het 'n passie vir Afrikaans en ek het 'n passie vir musiek. Om dié twee te kan kombineer is wonderlik!
"En in elk geval moet ons ophou om suinig te wees met Afrikaans. Hoe meer mense daarby betrokke is, hoe beter op die langtermyn."
Die 28-jarige Etienne gebruik die liedjies op Storie van my Hart om sy eie verhaal te vertel.
"Die meeste van my lirieke is baie persoonlik, soos Happy Dayz wat oor my oupa gaan en Moeder wat wys hoeveel my ma vir my beteken. En dan natuurlik al die meisies wat my al gelos het." In Happy Dayz sing hy: "Happy days are here again; ja ek hoor nogsteeds sy stem; en hy vra vir my speel Suikerbos in 'n sad way..."
Maar Etienne sing nie alles in 'n sad way nie, daarvoor het rockmusiek 'n te groot invloed op sy klank gehad.
Hy het sy eerste akkoorde op sy pa, Indwe, se ou kitaar gespeel, of eerder hy het gedink dis akkoorde. Sy ma kon die 'geraas' nie uitstaan nie. Sy't vir hom 'n selfhelp kitaarboek by die CNA gekoop en dit was dié liedjieskrywer se enigste vorm van "formele" opleiding. Tydens sy skooljare aan die Hoërskool Outeniqua in George het hy sy eerste hard metal groep, Denizen, gestig. Hy het toe besef hy wil niks anders met sy lewe doen nie.
Ná skool het hy en sy nuwe groep, Bottlebom, klubs in die George-omgewing aan die brand gespeel. Goose Gap het daarop gevolg, maar Etienne besluit om na Pretoria te verhuis.
"Ek het nie geweet waar ek gaan bly of wat ek gaan doen nie, maar ek het geweet dis waar ek moet wees," vertel hy.
Gelukkig het hy werk by David Gresham Records gekry en so het hy die produksiekant van die bedryf leer ken.
En tussendeur het hy aanhou droom van sy eerste CD as solokunstenaar, daarom is Storie van my Hart vir hom ekstra spesiaal. "Ek is trots op wat ek vermag het en as ander mense ook daarvan hou is dit 'n bonus."
Daar is heelwat ander mense wat wel van sy musiek hou. Hy het in 'n kort tydjie talle bewonderaars gewerf en Storie van my Hart is vroeër vanjaar benoem vir 'n Sama-toekenning vir beste popalbum. Hoewel hy vir eers in Pretoria gaan bly, wil hy graag in Londen voor Suid-Afrikaners optree.
"En dan gaan ek die wêreld oorneem," sê hy met 'n speel-speel maniese laggie.
ETIENNE STEYN is fris en gesond
Vrouekeur - 29 September 2006
deur Christiaan J De Swardt
Advertensie: "Hallo, ek is Etienne steyn. Ek is lefdevol, fris en gesond en soms vol stront! Ek hou liggaam en gees gesond: 'gym' vir die 'looks' en kerk vir die gees. Ek hou van meisies - sal julle asb vir my skryf?"
Dié veelsydige blonde, blouooglat is 'n sanger, liedjieskrywer, kitaar- en tromspeler en opnameregisseur. Etienne Steyn (27) terg en sê hy verpes alles wat té veel energie vereis, maar daar was 'n tyd toe hy in krieket, hokkie, tennis, swem en rugby uitgeblink het en selfs provinsiale kleure in karate verwerf het. Dié vaardighede is nou nuttig vir oorgretige bewonderaars wat verbode aandag soek. "Ek weet hoe om vir my wickets te keer!"
Sy enigste tydverdryf is die bou van modelvliegtuigies: egter nie die soort wat op 'n kassie staan nie, maar dié wat regtig vlieg. Hy vergryp hom soms aan tamatiesous. "Lekker kos, eet en lag is my vermaak."
Etienne se lyf is seepglad, "My ousus het altyd haar jongste wastegnieke op my sagte, wit snor uitgetoets. Dis hoekom ek nie juis facial hair ontwikkel het nie en nou nog nie veel hoef te skeer nie!"
Hy verpes padslaggate, padvarke, boelies en bloublasies, nat hout, 'n koue bad en Eskom. Patricia Lewis, die Bokke wat wen en die Blou Bulle wat verloor kikker hom op.
Hy is 'n gesinsman en hy mis dikwels sy ouerhuis op George: sy pa, Indwe (of Pottie), 'n eiendomsagent, sy ma, Susan, 'n boekhouer, gimnasiuminstrukteur en beoordeleaar van aërobiese sport, sy 17-jarige boetie Ruben ('n leerder by die Landbouskool Oakdale op Riversdal), en sy 31-jarige getroude suster, Melanie, 'n skoonheidsterapeut wat in Italië woon.
Etienne, deesdae 'n Pretorianer, is 'n romantikus en hou van 'n vrou wat vrouliik is. "Met versorgde naels, hare en lyf. 'n Skaam glimlag roer my meer as 'n sexy dans om 'n paal."
Hy is 'n vlymskerp, avontuurlike, oorspronklike kunstenaar wat hom in uiteenlopende musikale dissiplines bewys het. Hy klink soos niemand anders nie en is werklik 'n muso in murg en siel.
Vorentoe?: "To boldly go where no man has ever gone before!"
Etienne uit die Blik:
Doopname: Etienne Benjamin Steyn
Verjaardag: 24 November (1978)
Gunstelingsêding: "It's no secret - I use Lux"
Lewenslied: Metallica se Nothing Else Matters
Lengte: 1,79m.
Gewig: Tussen 60-95 kg "Ha-ha-ha!"
Bolangs: Mediumrig
Broek: "Nie te groot nie!"
Voetgoed: 10 - "Groot genoeg."
Debuutalbum: Storie Van My Hart (vir 'n Samaprys in die afdeling Beste Popalbum benoem)
Musiekvideo's: MK89 speel tans drie van sy musiekvideos: Happy Dayz, Baby Love Van My en Slaap jy rustig vanaand
Huisgenoot Kollig
Haidee Muller - 14 September 2006
Op skool het Etienne Steyn in kore en toneelstukke being sing, maar eintlik moet sy pa se kitaar die skuld kry dat musiek nou sy jobbie is.
"Ek was in gr. 10 en daai kitaar was die laaste spyker in die doodskis. Ek het begin tokkel en liedjies skryf en dit het my heeltemal gafassineer. Ek wou nog nooit weer iets anders doen nie."
Toe begin hy met sy eerste "garage-band", Denizen. Dit het by skool partytjies en in kroeë opgetree. "Daai soort kroeë waar niemand jou ID gevra het nie," sê hy en lag. "Denizen het toe Bottelbom en later weer Goose Gap geword. Ons grootste treffer was Sugar Up My Lollipop wat nommer twintig op 5fm se Top-40 was."
"My Afrikaanse liedjies het 'n bietjie langer gevat om te ontwikkel, maar nou het my debuutalbum, Storie van My Hart, my siening oor Afrikaanse musiek heeltemal verander."
Vertel ons van jou debuutalbum:
Net my eie liedjies is daarop. Die album gaan oor herinneringe, my familie en sake van die hart. Dis 'n droom wat jare gelede met 'n ou akoestiese kitaar begin het; nou is dit werklikheid.
Vertel bietjie van jou Sama-benoeming in die kategorie beste popalbum:
Dit was fantasties! Ek het dit glad nie verwag nie. Dit was regtig 'n baie besonderse aand en al het ek nie gewen nie, was my kop baie langer as gewoonlik heelwat groter. Gelukkig sorg my goeie familie dat ek dadelik terugkom aarde toe.
Hoe beskryf jy jou eie musiek?
Dis sake van die hart met 'n knippie tiemie - ballades en lekker popliedjies op een skyf.
Laurika Rauch het een van jou liedjies opgeneem - hoe voel jy daaroor?
Natuurlik was git 'n groot voorreg. Laurika was nog altyd vir my 'n rolmodel. Die eerste liedjie wat ek kan onthou en waarvan ek gehou het, was Jy Is te Dierbaar om Seer te Kry.
As musiek môre sou vergaan, waarvan sal jy lewe?
Visvang of tromme speel! Grappie. Ek hou van vlieg en miskien sal ek 'n ruimtevaarder of so iets word.
Wie is jou rolmodelle in die bedryf?
Daar is heelparty, maar beslis Laurika. Ek het ook baie respek vir ouens soos Springbok Nude Girls, Just Jinjer en Valiant Swart.
Wanneer was jy vir die eerste keer op 'n verhoog?
Toe ek in gr. 11 was, in 'n klein pizza-restaurantjie in George. Die piepklein dansvloertjie was nà die aand besaai met gebreekte glase en leë bierbottels. Vandag is die plek 'n videowinkel.
Pla die senuwees jou nog?
Nog sommer baie! 'n Mens leer dit mettertyd beter verwerk.
Kitsfeite:
* Ek het 'n spinnekopfobie
* Ek kan glad nie spel nie, maar het al vir Michael Jackson 'n brief geskryf toe ek klein was. Ek het dikwels sy danspassies voor die TV geoefen, maar val nou nog oor my eie voete wanneer ek probeer los dans. Ek kan darem goed vas dans.
Storie van My Hart
Toast Coetzer - Oktober 2005
Ek's altyd bereid om van voor af beïndruk te word, so toe ek Steyn se debuut solo-album uit my discount-flyer verstopte posbus haal, was ek bereid om my ingeboude vooroordele teen byvoorbeeld cheesy CD covers, clichés en moderne haarstyle vir 'n wyle opsy te skuif.
As die omslag jou nie reeds daarop attent gemaak het nie, sal Baby Love Van My alle twyfel uit die weg ruim: Steyn is 'n Afrikaanse popsanger wat gemoedelik-lokale liedjies oor die liefde, familie en sy omgewing sing. Die liedjies maak oombliklik 'n impak - dis 'n direkte aanslag op jou ore en voete, want die eenvoudige kitaar-tromme-baskitaar (met jolige klavier hier en daar) kombinasie is duidelik iets waaruit Steyn met gemak aansteeklike liedjies kan optower.
Die produksie is deurentyd vlymskerp, soms effens avontuurlustig - alhoewel 'n paar effekte ongelukkig oorbenut word (die 'geblikte' intro van Happy Dayz verskyn later op Storie Van My Hart weer, met minder impak), terwyl ander oomblikke onontgin laat staan word (bv die outro van Slaap Jy Rustig Vanaand wat vir 'n sekond aan The Flaming Lips herinner, maar dalk verwag ek te veel) ten gunste van 'makliker' musiek.
Happy Dayz is 'n gunsteling, Steyn wat 'n roerende memoir aan sy oupa so fyn en lig benader dat jy skaars die traan gaan merk wanneer dit kom. Alhoewel Steyn se lirieke nie van die hardste of treffendste is nie, het hy die talent om dinge eenvoudig en gemaklik oor te dra:
"as die mense om my stil raak en die dagbreek geen verskil maak
dwaal my hart weer terug na Sondae van vleisbraai lag en hout dra"
Hier is 'n fantastiese song, alles afgestroop tot 'n eenvoudige, mantra-agtige liriek, ritme en 'n enkele kitaar-ping wat kompak die verlangende voortsleep. Dis songs soos hierdie wat bewys dat Steyn nie jou gewone twee-lettergreep jafel met 'n kitaar is nie.
Alhoewel die bonus-snitte (remixes van Happy Dayz en Storie Van My Hart) sekerlik 'n paar sokkie-entoesiaste se oë sal laat ophelder met ongesonde gedagtes van sweterige hande om die heupe van ongehude jong dames uit die distrik, doen dit myns insiens afbreuk aan die album. Dis seker hoekom hulle bonus-snitte is, maar jissus, dis standaard doef-doef effek-effek hanna-hanna repeat cycle tipe drek soos beskikbaar in elke tweede biertent by 'n groot kunstefees. To be fair, die Storie Van My Hart remix has its moments.
Daar's egter genoeg blink gedagtes elders op die album wat daarop dui dat Steyn Afrikaanse popmusiek met 'n verskil kan maak. Of hy wil is sy besluit. Mens wil soms net hê hy moet heeltemal oorboord gaan - maar hierdie is vroeë tye, so kom ons kyk wat gebeur. Boonop is dit kommersiële popmusiek waarvan ons praat, so dalk is dit perfek soos dit is. Ek's seker dis op 'n radio iewers naby jou.
Heimwee met 'n tikkie huppel
Republikein (Namibia) - November 2005
SELFS ore wat geneig is om neusoptrekkerig toe te slaan by die kleinste snuf van "popmusiek" sal oorrompel word deur die eerlike eenvoud van Etienne Steyn se debuutalbum Storie van my hart (AKA Records).
En al twaalf die nommers is dié kêrel van George se eiegoed.
Etienne is nie 'n groentjie in die musiekbedryf nie. Hy was voorheen deel van die groep Goose Gap wat 'n radiotreffer gehad het met "Sugar Up My Lollipop" en het die produksie hanteer van Cutting Jade se album Between Two Lives.
Hierdie keer maak hy egter sy stem dik in die moersmelktaal.
Die openingsnit, "Baby love van my (is ons nog oukei...)," is ligte pop met 'n heerlike huppel in die stert. 'n Vroeë waarskuwing aan oudedoos luisteraars wat nog 'n oorval wil kry oor kunstenaars wat hul taal meng.
In die popmilieu doen dié soms dik gesoute Rooitaal nimmer geforseerd aan nie.
Op "Beloftes" (met 'n slim verwysing na Fiela se kind) en die nostalgiese "Happy Dayz" sing moderne country sterk saam, waarna die ore (dalk net so effe té) gebombardeer word met 'n string goed bemeesterde heimweeagtige ballades. Luister onder meer na "Slaap jy rustig vanaand," "Kind" en "Moeder."
Etienne se titelsnit is ook te hoor op Laurika Rauch se jongste trefferversameling.
"Foto in 'n jaarblad" verskaf as 'n humoristiese nommer in die ourock-styl feitlik die enigste afleiding onderweg na die Engelse nommer "Get Back" heel aan die einde.
Et broer, jy klink net vir my so bietjie vreemd as jy tale oorslaan... Of is dit maar net omdat ek versot op Afrikaans is?
My gouekeuse: "Happy Dayz," waarvan daar saam met die titelsnit bonus-dansweergawes verskyn.
'n Piekfyn produksie waarmee net galbraakore gróót fout sal kan vind.