Etienne se Biografie

Etienne Benjamin Steyn is op 24 November 1978 in Germiston gebore. Afgesien van 2 jaar waarin die gesin op Oudtshoorn woonagtig was, het Etienne die grootste deel van sy lewe op George deurgebring.

Etienne se musiekloopbaan het afgeskop met ‘n ou kitaar wat sy pa aan hom gegee het toe hy in graad 8 was. Na baie frustrerende dae van drukke oefen, en hond haaraf probeer maak, het sy ma uit moedeloosheid vir Etienne ‘n boek by die CNA gekoop- iets in die lyn van “A B C vir kitaarpelers”. Dit was tot op datum Etienne se enigste vorm van musiekopleiding, as ‘n mens dit so kan noem!

Die res is geskiedenis. Etienne het nooit weer opgehou om musiek te maak nie. Hy vorm sy eerste “Hard Metal Rock"-groep Denizen in 1995 en speel daardie jaar in “Battle of the Bands” in Stellenbosch en by Woodstock op Oudtshoorn. Etienne het van die begin af al sy eie musiek en lirieke geskryf.

In Oktober 1998 neem Etienne van sy eerste oorspronklike Engelse liedjies op by Clive en Tony Ridgeway van KFM Radio in Kaapstad. In 1999 begin hy ook die nuwe groep Bottlebom wat bestaan het uit 3 lede waarvan nie een ouer as 21 jaar was nie. Hulle was gereeld uitgenooi om te speel by verskeie klubs in die George- en Knysna-omgewing.

Die baie suksesvolle rockgroep Goose Gap is in 2000 gestig en in November 2001 vat die groep die langpad aan na Johannesburg en Pretoria, waar hulle by klubs soos Cool Runnings en Nile Crocodile opgetree het. Hulle neem ‘n CD op in ‘n kwessie van 4 dae by Juan Paul Destifani van B# studios. Etienne se hoogtepunt met hierdie groep was natuurlik hulle bekende liedjie “Sugar up My Lollipop“ wat ‘n reuse-treffer was. Gedurende hierdie periode speel hulle saam met groepe soos Not my Dog, Wonderboom, Springbok Nude Girls en Prime Circle.

In Februarie en Maart 2004 staan Etienne in vir Cutting Jade as voorsanger op ‘n landswye toer nadat hulle sanger die groep verlaat het.

In Desember 2001 besluit Etienne om na Pretoria te verhuis en voltyds sy musiekloopbaan te beoefen. In Januarie 2002 werk hy vir 'n jaar lank by David Gresham Records. Hy toon vinnige vordering in die produksie van musiek en word dan ook die regisseur van Cutting Jade se album “Between Two Lives”. Hy hou intussen vol om sy eie musiek te skryf en uit te reik, waarvan hy die meeste liedjies self skryf, sing en die regie doen. In hierdie tyd reik hy ‘n liedjie met die titel “Anything” onder die naam Benajmin Stain uit, wat baie goed ontvang is en uitstekende lugtyd oor die meeste bekende radiostasies ontvang het.

Etienne het tussen die jare 1997 en 1999 verskeie werke gedoen om sy inkomste aan te vul. Hy het onder meer by Paneelkloppers gewerk asook by die Lisensiekantore vir voertuie by 'n munisipaliteit. In 1998 het Etienne vol drome Engeland toe vertrek, net om deur die doeane in sy spore teruggestuur te word na SA (hulle wou nie sy storie glo dat hy net in England gaan "kuier" nie, veral toe hulle sy kitaar oor sy skouer sien hang...).

Etienne begin tydsaam Afrikaanse liedjies skryf en sing, wat hy by geleentheid op ‘n CD vir Laurika Rauch gestuur het om na te luister. In 2005 neem Laurika een van Etienne se liedjies ('Storie Van My Hart') op en in dieselfde periode nader AKA Records hom nadat hy ook ‘n CD aan hulle gestuur het met van sy liedjies op.

Ses maande later is Storie van my Hart, Etienne se debuut CD as solokunstenaar, gebore.

Intussen het die tyd nie stilgestaan vir hom nie: Etienne het op SABC 2 se Pitstop verskyn, waar hy as wenner op hulle "tref of trap" program aangewys is. Die immer gewilde program "Kwęla" het 'n onderhoud met Etienne gehad en MK89 speel sy musiek videos onverpoosd. Etienne is trouens deur MK89 aangewys as die kunstenaar vir wie hulle 'n musiekvideo, op hulle koste sal laat maak, aangesien sy musiekvideos so gewild is.

Die kroon op Etienne se debuut CD bly egter sy 2006 benoeming vir 'n SAMA onder die beste pop-album kategorie.

Sy nuwe CD "Bietjie van My" is in April 2007 uitgereik en is  trefferalbum, propvol oorspronklike, vars klanke en geniet  daagliks lugtyd  op vele van die land se radiostasies. Luister gerus na "Hond van Gouritsmond", "Ek gaan jou Mis" en "Gee vir my jou Liefde".